Warning: Creating default object from empty value in /home/passi/public_html/wp-content/themes/canvas/functions/admin-hooks.php on line 160

Wie Corlea is

Kort op mekaar se hakke kom die sangeres Corlea Botha en haar ma, Mesadi, die salon binne. Die duo is een span, ‘n warrelwind van energie. Corlea is vriendelik en oop. So tussendeur die warboel stiliste en musiek wat speel, begin sy sonder enige probleem gesels; weg is die ongemaklikheid, sy gesels asof sy jou lankal ken. Sy vertel hoe baie sy van dié bederf hou, en sing kort stukkies saam met die musiek wat speel.

Ek besef Corlea se siel is in musiek en is vry van gemeenskapsverwagtinge, want self sal ek nooit so noot kan hou in die openbaar asof niemand my dophou nie! My ervaring van dié vrou is dat sy ‘n vars bries is; ‘n vrou wat met haar voete stewig op die aarde staan. Ek kom agter dat sy en haar ma ‘n liefde en omgee vir mekaar deel wat nie gewoonlik die geval is as jy kyk na die geskiedenis van baie van ons jong sterre nie.

Omdat Passi Pretoria besoek spesiaal om Corlea te ontmoet, het ons ‘n lang fotosessie geboek om soveel as moontlik in een dag te probeer doen. Die verkeer is druk en daar is oral fotograwe, maar Corlea kla nooit en gooi haarself met oorgawe in die proses.

Sy het geen grootheidswaan nie. En sy is nie net ‘n mooi poppie nie; sy soek dieper betekenis en weet waaroor die lewe gaan. Haar nuwe album het ‘n boodskap vir almal. “Mense het my leer ken terwyl ek musiek uitgevoer het wat ‘n streng klassieke en ouwêreldse gevoel het. Dit het die persepsie geskep dat dit die enigste musiek is wat ek kan doen. Die boodskap wat ek wou oordra met die nuwe album is dat daar baie meer is aan my en my musiek. Ek het baie musiekstyle vermeng in my oorspronklike musiek en so ‘n paar ou Afrikaanse classics ook ’n nuwe klank gegee.”

Sy vertel hoe sy met dié album wil deel wat in haar hart is. “Die bekendstelling van die nuwe album is voorafgegaan deur ‘n baie moeilike jaar met die poniepers wat my lewe en loopbaan aan’t skerwe probeer ruk het. Ek het nooit teruggekap op enige van die skinderstories en swartsmeerdery nie. Ek het die titelsnit, ‘Wie ek is’, geskryf met dit alles in gedagte. Baie mense glo enige iets wat deur die pers geskryf word en dit kan baie nadelig wees vir enige iemand wat by die storie betrokke is. Ek wou die lug op my eie terme suiwer. So, die titelsnit en musiekvideo is my ‘mediaverklaring’.

Dan gesels sy een strook deur oor haar ervarings op konserte en met ander sangers en hoe bevoorreg sy is om te kan sing vir mense.

Corlea is op Delmas gebore, waar haar talent haar ouers onkant betrap het toe sy hulle as driejarige gedurende ‘n motorrit verras het deur uit volle bors saam met die musiek van Don Williams te sing, nootvas en met perfekte Engelse uitspraak! Op vyfj arige ouderdom het sy met stem- en klawerbordlesse begin en gedurende die volgende sewe jaar aan meer as 40 Eisteddfods en Nasionale Sangkompetisies deelgeneem – en meestal gewen.

Corlea het haar teaterdebuut in 1996 in die Italiaanse opera La Bohème gemaak en ook as die jongste Von Trapp-dogter, Gretl, in die musiekblyspel The Sound of Music gesing. Kritici kon nie uitgepraat raak oor die jonge Corlea se talent nie.

“Al het sy saam met swaargewigte soos Mimi Coertse, Jarmilla Tellinger, Judy Page en Anne Power gesing, het sy elke keer die kollig gesteel wanneer sy op die verhoog verskyn het.”

Maar die klein kordaat was nog nie klaar met die jaar nie en het voortgegaan om haar kategorie (5-8 jaar) te wen in die nasionale kompetisie Reik na die Sterre. Sy was die jongste deelnemer.

Toe die gesin in 1999 na Springs verhuis, is Corlea ná slegs een jaar as leerling aan die Laerskool Jan van Riebeeck as onderhoofdogter vir 2000 gekies. Die skool het ‘n goue geleentheid raakgesien en vir die eerste keer in 15 jaar ‘n revue op die planke gehad met Corlea in die hoofrol.

Sy het die rol van die Singende Tydreisiger vertolk in hierdie verhaal oor die verloop van die mensdom tot net voor die aanbreek van die nuwe millennium. Die produksie was so suksesvol dat die speelvak met ‘n week verleng is. Mense in Springs praat vandag nog van “die vertoning van die dekade”. In dieselfde jaar het Corlea vir die laaste keer aan Reik na die Sterre deelgeneem en nie net haar twee kategorieë – Jazz/RnB en Tale – gewen nie, maar ook as algehele wenner van die verhoog gestap.

Toe sy in 2008 begin werk aan ‘n solo-album het sy haar jarelange vriend, die bekende liedjieskrywer Rudi Claase, vir raad genader. Dit was die begin van die “Ons Liefl inge”-fenomeen wat Suid-Afrikaners gaande gehad het. Rudi en Corlea het ‘n duet album opgeneem waarop hulle hulde gebring het aan van die grootste plaaslike en internasionale kunstenaars. Die album, Ons Liefl inge / Our Darlings, is in 2009 bekend gestel en het tot op hede dubbel-platinumstatus bereik. ‘n Tweede album, Ons Liefl inge / Our Darlings: DROME, het in 2010 gevolg en het ook dubbel-platinumstatus bereik.

Vandag is Corlea ‘n solokunstenaar. Haar eerste solo-album in jare, Wie ek is, is in Oktober verlede jaar uitgereik en het al by die 20 000 kopieë verkoop. ‘n Groot vooruitsig vir bewonderaars is ‘n konsertreeks saam met Nataniël vroeg volgende jaar. “Ek is ‘n groot bewonderaar van hom en het baie respek vir die mens wat hy is en die toewyding aan sy kuns. Ek hou daarvan dat hy opstaan vir wie hy is en waarin hy glo!”

Corlea erken sy was oorbluf toe sy Nataniël die eerste keer ontmoet het. “Ek was totaal verras – ek het geweet hy is snaaks, maar ek kon nie ophou lag nie! Maar hy is ook ‘n baie nederige persoon en is een van die gaafste en eerlikste siele wat ek al ooit ontmoet het. Ek voel baie geëer dat hy my gevra het om deel van sy vertoning by Emperor’s Palace te wees. Ek weet nog nie waaroor die vertoning gaan of wat ek gaan sing nie; al wat ek weet is dat dit ‘n ware stuk Nataniël-kuns gaan wees!”

‘n Mens weet sommer dié besonderse vrou met die engelstem is bestem vir veel hoër hoogtes.

Corlea Botha’s new album is a statement. Wie ek is is Corlea’s way of telling the world that there is more to her than the music. During Passi’s time with her – a very long photo shoot – we saw this clearly. She is a whirl-wind of energy; friendly and open. Her feet are fi rmly planted on the earth but her spirit is in music. Where she is now, is the culmination of hard work that led to a highly successful career of which many a young singer can be envious. Across the years she took part in more than 40 Eisteddfodds and National Singing competitions – most of which she won. Corlea also conquered the stage and stole the show from some of the biggest names in mu-sic. In 1996 she also won the Reik na die Sterre competi-tion as the youngest competitor that year. In 2008 she sought the advise of lifelong friend, Rudi Claase, on a solo-album, but this quickly morphed into the phenome-non that took South Africa by storm, Ons Liefl inge. Today Corlea is a full-fl edged solo-artist, with Wie ek is released in October 2011 and already sold close to 20 000 copies.

Subscribe

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

Comments are closed.