Warning: Creating default object from empty value in /home/passi/public_html/wp-content/themes/canvas/functions/admin-hooks.php on line 160

Anderkant die cliché

heading_gerhard

Hy’t jare lank al die toerusting gehad om dit te kon doen. En die passie vir die natuur was al daar vandat hy as ‘n jong kannetjie saam met sy pa in die boendoes gaan kamp het. Maar as iemand vir 

Gerhard Steenkamp gevra het wanneer hy sy hand aan wildlewefotografie gaan waag, was sy antwoord altyd: “Eendag as ek genoeg geduld het.”

gerh_06

So twee en ‘n half jaar gelede ontdek hy toe die Groot Geduld iewers in homself. Kom hy agter dat dit nou vir hom lekker is om ure langs ‘n watergat te sit en wag. “Dis eintlik vir my die heel lekkerste om heeltemal op my eie te gaan. Mens kry tyd om te dink en die natuur te beleef. Dit gaan vir my daaroor om die grond te kan ruik. Elke plek ruik mos anders. Dis goed wat jy nie in ‘n foto kan oordra nie.”

Hy’t gou agtergekom dat hy nie wil kompeteer met ander wildlewefotograwe nie. “Kameras is deesdae so goed. Enige ou kan eintlik ‘n goeie foto neem as jy op die regte tyd op die regte plek is. Vir my is die groot geheim om iets anders as die cliché-foto’s te doen.”

Vir Gerhard is die clichés daardie foto’s van diere in ‘n tradisionele posisie – soos ‘n luiperd wat in ‘n boom lê, ‘n leeu wat ‘n bok vang. Mooi prentjies. Maar wat jou onwillekeurig laat voel dat jy dit al iewers anders gesien het. “Dit gaan nie net daaroor om ‘n mooi (maar geykte) foto van ‘n spesifieke dier te neem nie. Die spesifieke, rare oomblik wat jy vasvang en die totale komposisie moet tot ‘n mens spreek.”

 

Hy glo dat elke fotograaf ‘n styl het wat onlosmaaklik deel van hom raak.

gerh_04

Om daaraan te probeer torring is so goed soos om van Ernie Els te verwag om sy “swing” te verander. Hy’t agtergekom dat hy sy styl van sportfotografie wat oor baie jare ontwikkel het, kon verplaas na sy wildlewewerk. “Goeie sportfotografie is eintlik ‘n sport op sy eie. Dit gaan oor hand-oogkoördinasie en reflekse. En of jy nou ‘n jagluiperd of ‘n rugbyspeler in volle vaart afneem – die vaardigheid bly dieselfde.”

Die Kgalagadi-oorgrenspark, wat wydsbeen oor die Noord-Kaap en Botswana se grens staan, is een van sy gunstelingplekke. “Die diere daar – veral die leeus – is altyd in topkondisie. Dit lyk elke oggend of hulle nou net by die haarkapper was!”

 

gerh_03

Vir Gerhard is fotografie nie ‘n beroep nie, maar ‘n lewenswyse. Dit beteken dat jy soms vir lang tye en met oorgawe met iets sal besig wees wat nie noodwendig vir jou ‘n inkomste gaan beteken nie. “Die groot ding van wildlewefotografie is dat dit so onvoorspelbaar is. Een dag lyk dit of al die park se diere spesiaal vir jou ‘afshow’. ‘n Dag later is daar niks nie.” Die foto’s wat wel werk, is dikwels die kombinasie van ervaring, intense konsentrasie en ‘n goeie skoot geluk. Daardie magiese oomblik wanneer tydsberekening en goeie lig mekaar ontmoet.

gerh_02

En hy glo nie daaraan om te gaan met ‘n vooropgestelde idee van wat om af te neem nie. “Mens kan tog nie kreatief wees as jy die heeltyd volgens ‘n plan werk nie. Dit gaan oor inspirasie op die oomblik. Jy moet gaan om die grond te ruik. En as jy in die proses ‘n paar onvergeetlike oomblikke kan verewig, is dit net ‘n bonus.”

gerh_01

gerh_05

Subscribe

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

Comments are closed.