Warning: Creating default object from empty value in /home/passi/public_html/wp-content/themes/canvas/functions/admin-hooks.php on line 160

Groen Sonder Geite

In die hartjie van die Tuinroete, tussen Hoekwil en Wildernis, het Julio en Susan Agrella begin met die verwesenliking van hul droom – ‘n skuurwoning vir hul aftrede. Is hierdie huis die perfekte sameloop van passie, eko-bewustheid en herwinning? Die antwoord is JA en NEE. Voordat al hierdie konsepte gonswoorde geword het en bloot gekoppel kon word aan die lankverlore, pretensielose beginsels van weleer en gesonde verstand, het die Agrellas stadig maar seker begin werk aan dit wat vandag daar gebou staan en wat ook welig groei op hul plasie Celeiro de Agrella – die Portugees vir “Agrella se skuur”.

 

 Gebore uit nood

Die passievolle leefstyl is gebore uit nood: Die aanvanklike huis het geen munisipale watervoorsiening of boorgate gehad nie. Op dié manier het die groot skuur met sy allemintige dakoppervlak die lig gesien om diens te doen as hoofopvangsgebied van alle moontlike reënwater vir huishoudelike gebruik. Die oorspronklike sooihuis – sowat 100 jaar oud – is eerste herstel toe die 4,2-hektaar eiendom aanvanklik gekoop is. In daardie stadium was daar geen waterbron op die perseel nie.

Vandag is alle water wat op die plasie verbruik word, reënwater – geen ander water word gebruik nie. Die water wat op die skuur se dak opgevang word, word herlei na tenks en damme op die werf. Dit word gefiltreer en water wat vir kombuisgebruik is, word bykomend ook deur ‘n koolfstoffilter gefiltreer. Badwater loop uit in ‘n dam om plante nat te lei en gebruikte kombuiswater loop uit in ‘n vleituin wat help met die suiwering daarvan. Bykomende water vir plante en bome word in twee gronddamme opgevang wat op natuurlike hellings geplaas is om die maksimum water te vang, maar daar is uitlope om te verseker dat die natuurlike wegvloei na die Dieprivier voortgaan. Toilette is suiwer, chemikalie-vrye septiese tenks wat deur middel van ‘n “french drain” die water weer onder die grond beskikbaar stel.

Restourasie en herwinning

groen_02Die sooihuis is deur die jare stelselmatig gerestoureer om so na as moontlik aan die oorspronklike huis te wees. Die vloeroppervlak was egter te klein vir die Agrellas se veelvuldige aktiwiteite en meubelversameling, en so het die skuur benewens sy reënwateropvangsfunksie ook begin diens doen as stoor vir alles wat van die stad gekom het na hulle aftrede.

Die sooihuis is gerestoureer met herwonne materiaal wat natuurlik ook geweldige kostebesparings meegebring het. Wanneer jy weer rondsnuffel by skroot- en sloopwerwe, moet jy daaraan dink om sommer ‘n hele stapel houtdeure en planke te koop, want dit is die moeite werd.  As jy nie dadelik ‘n vaste idee het waarvoor jy die items gaan aanwend nie, laat dit maar ‘n rukkie met rus. Wanneer die regte doel hom dan wel later by jou kom aanmeld, is jy slaggereed.

Ook wanneer jy by tweedehandsewinkels gaan inloer, soos wat die Agrellas dikwels doen, gaan eerste na die agterplaas, waar jy sommige artikels spotgoedkoop kan kry as jy bereid is om self daaraan te werk. Nog goeie raad is om by sloopwerwe in jou omgewing te koop. Sodoende leer die mense jou ken, deel nuwe idees met jou en ontwikkel ‘n beter begrip vir dit waarna jy soek – op dié manier hou jy jou koolstofspoor kleiner.

Julio sê daar was talle moontlikhede rondom die soektog na materiaal om die bouwerk en restourasie so ekonomies as moontlik te maak. Ter wille van ‘n eindelose gesoekery is daar op die ou end besluit om nie net te fokus op die “eko”-aspek nie, maar ook om van die begin af die plaaslike vakmanne en bedrywe te ondersteun. In Julio se woorde: “Die hoogte van die nuwe dak vir die skuur het ander boumetodes onprakties gemaak. Ek bly eerder in ‘n eerlike baksteen-konstruksie as in ‘n nagemaakte houthuis.”

Plaaslik aangekoopte bakstene wat gewoonlik vir fabriekkonstruksie gebruik word of toegepleister word, is gebruik. Die voordeur is in Kaapstad gekoop by die voormalige ON SITE GALLERY en so ook die ou leerstoel (sien foto) bo-op die muurlys. Dit kom oorspronklik uit Argentinië.

Die dekoratiewe deur wat die hoofslaapkamer met die enorme leefstoep verbind, kom uit Indië. So ook die swaar bank in die ingangsportaal by die voordeur. Hierdie deur is gekoop by Malabar in Durbanville voordat dié onderneming sy deure gesluit het. Die enigste nuwe items in die hele huis is die bad, handewasbak en toilet, asook die industriële Ambassade-gasstoof – ja, selfs die kombuiswasbak is ‘n mooi herwinnings-aankoop van Ding Dong in George.

Daar is talle opvallende en karaktervolle meubelstukke wat elkeen ‘n geskiedenis van ‘n ander doel het en nou voortleef as iets nuuts:

Voorbeelde hiervan:

‘n Ou stasieperronlig wat in die Kaap as posbus gebruik is, maak nou lig in die boonste vertrek

Ou boekrakke van die Agrellas se studeerkamer in die Kaap huisves nou wyn en ander glase

‘n Ou staatsdiens-liaseerkas hou nou CD‘s en DVD‘s

Wat 20 jaar gelede ‘n middelrak in ‘n kas was en later ‘n badkamer-drupplank, verskaf nou hangplek vir braaitange en roosters

Die stukkende klavier is vandag ‘n “kunswerk” op die stoep en die klawerklap is vol gate geboor en word gebruik om Susan se swaarde te hang.

Ou hangkaste is met glaskante in boekrakke omskep

Selfs die Agrellas se pienk dralon-sitkamerstel het nuwe lewe gekry. Die astrante en lewendige kombinasie van kleure het menige besoeker al meer as twee keer laat staar en lok altyd lekker kommentaar uit.

Die tuin:

Die tuin is so minimalisties as moontlik gehou om die ongelooflike natuurlike skoonheid van die omliggende berge vanuit die huis te kan sien. Die grootste enkele taak was om die 2,5-hektaar swart wattelbome, ‘n indringerplant, te verwyder. Dit is ‘n voortdurende werk om die opslagboompies te verwyder aangesien die saad nog tot 75 jaar aktief in die grond bly. Die boom breek vinnig af in die grond, wat ‘n baie ryk grond tot gevolg het, maar volwasse bome gebruik tot soveel as 200 liter water per dag. Die ontwortelde wattelbome word nou gebruik as vuurmaakhout vir die Tuinroete se lang, nat winters.groen_03

Julio: “Ek het reeds olywe, granate en ‘n paar amandelbome aangeplant en is nou besig met die voorbereiding om sowat ‘n halwe hektaar wingerddruiwe aan te plant. Ek doen alles self en na 25 jaar in die korporatiewe lewe is ek maar lui… Ek het nog vier hektaar om te beplan en beplant. Ek is ook jammer dat ek nog te min groot bome het om skadu te gee vir my boslelies, maar ek het al intussen sowat 80 inheemse bome aangeplant. Ek is ‘n tradisionele tuinmaker: Ek moet ‘n klein boompie plant en hom sien groei!”

‘How green is my valley?’

Julio stuur in nabetragting die volgende e-pos:

“ …vroeër vanaand, terwyl ek, soos dit enige bang man betaam, staan en skottelgoed was, besef ek dat ons nog heelwat eco goed doen wat eintlik al so deel van hoe ons lewe is dat ek nie eens daaraan gedink het as ‘groen-doen’ nie. Omdat ons geen munisipale dienste het nie, dink ‘n mens anders oor hoe en waarmee jy leef.

Kombuisafval: Vars afval soos skille en teesakkies word in ‘n emmer met probiotika (Bokashi) behandel en daarna in die grond begrawe om ‘n basis vir plante te word. Papier en glas word dorp toe gevat vir herwinning. Omdat ons min in winkels koop, spaar ons baie gemors omdat verpakkingafval beperk word. Karton (soos al die bokse met ‘n trek) word in die tuin gebruik as ‘n basis bo-oor die gras. Nuwe grond en kompos word bo-oor gegooi. Dit beperk die groei van grasse in jou groente- en blomtuin.

Tuinvullis bestaan nie, want alle blare en bossies word gebruik as deklaag. Ek maak nie kompos nie, want die hoop lok gewoonlik kewers en ander insekte. Ons maak soos die natuur in die bos: Los blare en ander tuinafval op die grond om natuurlik af te breek. Dis belangrik om bossies uit te trek of af te sny voordat dit saad maak. Fokus op endemiese plante (nie “inheems” nie, want wat in die Kalahari en Tzaneen groei, is inheems).

Elektrisiteit word op ‘n paar maniere bespaar:

Die warmwatersilinder word net twee uur per dag aangesit. Klere (buiten vir witgoed) word in koue water gewas. Wasgoed word so naby as moontlik aan optimumvlakke gewas – nie te groot was nie, want dan kom niks skoon nie, en nie te klein nie, want dan mors jy water en elektrisiteit.

Die skuur het min ligte omdat dit oopplan is. Ons gebruik meestal energiebesparende gloeilampe, hoewel ek reken dis ‘n foefie omdat die tegnologie in hierdie stadium nog in wording is. Tans is die omgewingsimpak weens die kwik in hierdie soort ligte wat my betref ‘n groter gevaar as die energievermorsing van gewone gloeilampe.

Ek het reeds ‘n sonpaneel vir die warmwatersilinder, maar moet dit nog opstel.

Kook word op gas of op ‘n elektromagnetiese plaat gedoen.

Huisverwarming geskied deur middel van ‘n “closed-combustion”-houtstofie met ‘n ses meter lange skoorsteen wat hitte versprei. Slegs uitheemse hout (swart wattel) word gebruik en die as word weer in die tuin gestrooi om die grond te voed (koolstof).

Die huis is so ontwerp dat dit die son maksimaal in die winter gebruik. Dit front noord met groot deure aan die noordekant. Ons koue winde kom van die weste en suide en daarom is die suidelike vensters klein en daar is bykans geen westelike vensters nie.

Die groot stoep, konsertinadeure en klein suidelike vensters beteken daar is ‘n koel lugvloei in die somer (van die see af wat suid van ons lê).”

 Waar het dit begin?

Die onbewuste keuse van ‘n “eko”-leefstyl het nog ander voordele ook, maar dit moes iewers begin het.

groen_04Julio verduidelik: “Ek het nie beplan om eco groen te wees nie, maar het na baie jare van ‘n ‘ek moet ‘n groter TV as jy hê en ‘n nuwe kar ry’-leefstyl besluit ek het genoeg gehad. Simpatie met die natuur en ‘n bewondering van hoe die natuur dinge doen as jy hom/haar kans gee, dryf my manier baie meer. Ek sien eerder plantluise saam met liewenheersbesies op my rose as wat ek geen plantluise het nie….en die molle kan maar gate grou, want dit belug die grond en dolwe dit om. Ek verkies om kakiebos-aftreksel vir vlieë te gebruik eerder as Doom. Dit beteken dat ek kakiebos willens en wetens laat groei….maar ek sukkel nog om ‘n rede vir knapsekêrels te kry! Ek wonder oor hoe ‘eko-groen’ ons is as ons daarop aandring om groot viertrekvoertuie te ry en vlekkelose vrugte en groente sonder smaak en grootmaat- plastiek kaas te eet. Ek oordeel nie, ek wonder maar net.”

Susan: “As jy dag na dag wakker word in stilte (spitstyd = 7 voertuie per uur), skoon lug inasem en plaaslik gekweekte groente en vrugte by die weeklikse Saterdagmark koop, dan is ‘n eko-groen leefstyl nie ‘n bewuste keuse nie – jy kyk terug en besef dit het net gebeur. Die plaaslewe vorm jou sonder dat jy besef jy verander; jy haal dieper asem, lag met oorgawe, sit sommer net vir die lekker in die son, loop kaalvoet en voel hoe die modder deur jou tone peul.”

Subscribe

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

Comments are closed.