Warning: Creating default object from empty value in /home/passi/public_html/wp-content/themes/canvas/functions/admin-hooks.php on line 160

Groenvye se Konfyt

In dratyd is dit ‘n ewige baklei tussen jou en die muisvoëls oor wie daardie pragtige uitgeswelde vy met die dun skilletjie en die stroopsoet binne gaan kry.

Nou kyk, groenvyekonfyt kan reg loop, maar soms laat die vye jou lelik in die steek, of sal ek eerder sê, my eie kookvermoëns. Ek onthou dat ek iewers gelees het jy moet die vye voor 15 Oktober kook. Hoe lank dié geloof al bestaan, weet ek nie en ook nie wat aardverwarming met die datum maak nie, maar soos ek sê: Jy moet kook voor 15 Oktober – daarna swel die vye te kwaai (neem ek aan).

Die resep wat ek plaas, is nie die een wat jy met kalk maak nie. Die een is ‘n ou resep en benodig sout. Ek noem ook ‘n paar goeters wat jy kan bysit as jou hart so voel. Klim dus in jou kar, gaan soek ‘n vyeboom en begin kook.

100 uitgeswelde vye – nie hol aan die binnekant nie

3,5 kg suiker

Skil die vye baie dun af met ‘n skerp messie. Sny ‘n kruisie bo-op elkeen en gooi in ’n groot skottel. Strooi ’n handjie sout oor, sit ’n groot bord bo-op die vye en druk die bord op die vye af – moet nou nie die vye flenters druk nie, net so ’n lekker boeredruk.

Gooi kookwater oor en laat staan vir 24 uur. Haal die vye uit, gooi in ’n kastrol saam met vars water en ’n hand vyeblare – dit hou die kleur mooi. Kook tot die vye net sag is, haal die vye uit en druk elke vy liggies om die water by hul mondjies uit te kry.

Kook vier liter water saam met die suiker totdat dit ’n lieflike stroop is. Gooi die stroop deur en kook weer tot die stroop begin dik raak. Sit nou die vye in en kook tot die vye deurgekook en die stroop dik en helder is. Skep skuim af indien daar enige skuim tydens die kookproses vorm.

Plaas die liefvrugte in jou mooiste gesteriliseerde bottels en bêre vir minstens ses weke. Deel daarna met beste vriende saam met klam plaasbiltong, bloukaas en ‘n glas goeie port – en as daar oorbly, kan jy dit by die krismis-koekstruif insny.

Jy kan in die suikerstroop wat jy kook, die volgende bysit:

6 stukke steranys, 6 naeltjies, 6 wonderpeperkorrels en ‘n stuk pypkaneel –verwyder wanneer jy die stroop die eerste keer syg. Jy kan ook  ‘n stuk vars, gekneusde gemmer saam met die eerste kook van die stroop kook, en verwyder wanneer jy die vye insit.

Stroop – gebruik 500 gram suiker vir elke 500 g vrugte en 375 milliliter water vir elke 200 gram suiker. Gebruik ‘n vandag-se-optelmasjien, anders gaat jy nie verstaan nie. Gooi ‘n koppie vars suurlemoensap in die stroop saam met die vye so 20 minute voor jy die vye begin bottel.

vye_01

Subscribe

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

No comments yet.

Leave a Reply