Warning: Creating default object from empty value in /home/passi/public_html/wp-content/themes/canvas/functions/admin-hooks.php on line 160

Kweek jou eie idees

Hierdie is nie ‘n artikel oor skaatsplankry nie. Dis ook nie ‘n artikel oor selfhelpwenke nie. Dis ‘n soektog na insig. Willemien Marais het gaan vasstel wat die ideale omstandighede vir die kweek van ‘n vars idee is.

Ons was al almal daar. Daar in daai hoek waarin jy jouself so vasgedink het dat jy nie meer weet waar bo of onder is nie. Dis sulke tye dat mense allerhande selfhelpterme in jou rigting gooi: Staan terug sodat jy ‘n ander perspektief op die probleem kan kry. Dink buite die boks. Dis g’n so maklik nie; die meeste van ons besef nie eens ons is ín ‘n boks nie. Om vars na iets te kyk gaan van jou verg om heeltemal uit die boks te klim. En dan moet jy dit omdraai, daarop klim en bo-oor die muur loer, want dís waar die dinge eintlik gebeur.

Dis nie altyd lekker nie, veral nie as jy nie juis lus het vir ‘n ander boks nie. Om jou denke of standpunt oor iets te toets, is die beste plek om te begin by die teenoorgestelde kant van waar jy staan. Lees oor iets wat jou ongemaklik maak of waarmee jy hoegenaamd nie saamstem nie. Praat met iemand met wie jy nooit ‘n geselsie sou aanknoop nie – iemand van ‘n ander geloof of ras of leefstyl. Dwing jouself om aandagtig na musiek te luister waarvan jy regtig niks hou nie. Stel jouself bloot aan ‘n subkultuur.  skaters_01

Wat my bring by my volgende punt: Wat het argitektuur en die skaatsplankkultuur in gemeen? Was daardie sprong na my volgende punt vir jou effens teen die verloop van die storie in? Dis die plan. Om iets buite die normale konteks daarvan te beskou, is ‘n grondslag van kreatiewe denke. Of Edward de Bono se laterale denke, wat basies kontraste behels. Onwaarskynlike bedmaats. Soos argitektuur en skaatsplankry.

Dié twee is in ‘n stormagtige verhouding sedert die eerste ou wieletjies onder ‘n plank gesit en bewys het ‘n leë swembad het ook bestaansreg. Eintlik is dit ‘n ménage à trois met die derde minnaar gesag in enige vorm. Jocko Weyland som dit mooi op in The answer is never: A skateboarder’s history of the world: “Concrete has become humanity’s habitat, and this is what skaters utilize in a way no other group does. Because of this appropriation of the physical world, skating is inherently in conflict with authority.”

Dit eers daar gelaat. My broer Charl, ‘n oud-Kovsie wat as argitek in Kaapstad werk, is besig met navorsing oor kreatiwiteit vir sy meestersgraadverhandeling. Hy vertel my hoe jukstaposisie – teenstelling – daai aha!-oomblik kan skep wat nodig is vir ‘n briljante nuwe idee. (Hy gooi ook groot woorde rond soos die volgende: Arthur Koestler se bisosiasieteorie stel dit dat kreatiwiteit die sintese behels van twee of meer idees van uiteenlopende of onverwante domeins om sodoende voorheen onbekende raakpunte tussen beelde of konsepte te onthul. Jy kry die idee.)

Kort daarna sien ek ‘n skakel na die volgende artikel in my Twitter feed raak: Why skateboarding matters to architecture. Dis De Bono en Koestler en Weyland in ‘n ménage à trois. Ek val amper flou. En hier’s ons nou: Ek vra rond en kry drie skateboarders om my te wys hoe hulle Bloemfontein sien.

Louis Mans “is in konstruksie”, Renico van Wyk is ‘n digitale kunstenaar en filmmaker en Markus Jordaan is – kan jy nou meer – ‘n finale jaar-argitektuurstudent. Al drie is bereid om verskeie kere hard te val sodat fotograaf Peter Dowdle foto’s kan neem en ek my artikel kan skryf.

Ons is in Elizabethstraat, waar ‘n wandelpad in die dae van die sokker wêreldbeker aangelê is. Daar is sulke kleurvolle dog ietwat eienaardige sementballe al langs die sypaadjie. ‘n Mens aanvaar dat die basiese doel daarvan is om as verfraaiing te dien en waarskynlik te verhoed dat mense op die sypaadjie parkeer. Dit vorm ook ‘n heel gerieflike sitplek. En dis sover as wat die meeste van ons dink.

“Sal ons probeer om ‘n bal te pop?” vra Markus. En probeer dan herhaaldelik en met groot deursettingsvermoë om met sy skaatsplank oor ‘n bal te spring. Moenie dink dis maklik nie. Hy word ondersteun deur ‘n groepie straatkinders wat hande klap en asem ophou en oë toeknyp. Hulle is in die minderheid; die meeste voetgangers wat verby loop, lyk vies. Vir ons. Of dalk vir die lewe. Wie sal weet?

Die vermoë om na ‘n ruimte te kyk en iets anders te sien as dit waarvoor die ruimte bestem is, is natuurlik nie die uitsluitlike domein van die skateboarder nie. Terwyl Markus en Renico ‘n ruskans vat, stap ‘n vrou en haar dogtertjie – seker so ses jaar oud – verby. Haar ma swaai uit vir ‘n staalbankie, maar die dogtertjie spring op die bankie, loop oor en spring anderkant af. ‘n Bankie is nie net vir sit nie. Ook Markus se groepie fans loop verder – al bo-op die balle tot aan die einde van Elizabethstraat waar hulle die een na die ander parkour-agtig met groot vertoon afspring. Daar is meer maniere om daardie balle te geniet.

Later loop ons om na die tuin van die Sand du Plessis-teater (waar ‘n sekuriteitswag ingestem het dat ons ná vyf mag foto’s neem). “Ek het amper begin huil toe ek die Sand die eerste keer gesien het,” sê Louis. Ja, hy verwys na die argitektuur, maar nee, nie omdat dit visueel aantreklik is nie (wat dit wel is). Louis sien potensiaal in die elegante doolhof van trappies en wandelvlakke in die tuin voor hierdie indrukwekkende gebou. Hierdie tuin – en vele ander stedelike landskappe – kan op meer as een vlak geniet word.

Nie dat dit in hierdie stadium juis aangemoedig word nie. Daar bestaan maatskappye met ‘n sakeplan wat gebou is rondom maniere om skateboarders te verhoed om in en op en om en oor goeters te spring en rol en val. Eliminating long, smooth edges, is hoe Skatestoppers.com sy dienste adverteer. Hulle sweis ysterklonte aan alles van loopvlakke tot handrelings vas. En ruïneer in die proses die elegante, vloeiende lyne wat die argitek in die eerste plek ontwerp het. Op dié manier kan skateboarders nie die ruimte gebruik nie. En niemand anders kan die argitektuur geniet nie.

Is dit dalk moontlik dat argitektuur op meer as een vlak geniet kan word? ‘n Ruimte wat funksioneel en gebruikersvriendelik is en terselfdertyd ook visueel aantreklik is, het ons reeds. Maar wat van ‘n ontwerp wat ook multifunksioneel is en op dié manier kreatiwiteit stimuleer?

skaters_02My middag saam met die skateboarders is insiggewend op soveel vlakke. Ek sal nooit weer dieselfde na die Sand kyk nie. Hoeveel mense maak werklik gebruik van daardie loopvlakke en wandelgange? Die meeste teatergangers stop in die parkeergarage en ry met ‘n hysbak tot waar hulle wil wees. Die idee van ‘n statige teater met ‘n tuin wat toeganklik is vir skateboarders is die soort bisosiasie waarvan vroeër gepraat word. Dis ook ‘n konsep wat die nekhare van albei groepe laat rys. Wat ons bring by die ware toets vir ‘n vars perspektief – jy kan nie grense verskuif vanuit jou gemaksone nie.

Musikante beskik oor ‘n aangebore kreatiewe of “uitvoerende” talent wat die dissipline van tegniek nodig het om waarlik tot sy reg te kom. ‘n Goeie argitek is ‘n unieke kombinasie van visuele kuns en tegniese vaardighede. En die skateboarder is niks anders as ‘n gimnas op wiele nie. Is dit werklik so ‘n vreemde idee dat ‘n teater ‘n tuiste vir al drie kan wees?

Hierdie artikel is nie ‘n betoog vir of teen enige dissipline, aktiwiteit of munisipale regulasie nie. Die kombinasie van argitektuur en skaatsplankry het toevallig my pad gekruis. Dis eerder ‘n illustrasie van hoe op die oog af onverwante konsepte of aktiwiteite ‘n situasie vir nuwe insig kan skep.

 

 

Subscribe

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

Comments are closed.