Warning: Creating default object from empty value in /home/passi/public_html/wp-content/themes/canvas/functions/admin-hooks.php on line 160

Die Antibiotika seisoen is op pad

Sodra die kalender omblaai na Maart toe, begin mense mor oor die komende griepseisoen en hoe dit net ‘n kwessie van tyd is voordat hulle doodsiek raak. Die “oumensstories” rakende die oorsake van verkoues en griep word opgediep en verkondig as evangelie.

Kom ons hanteer die mites heel eerste: Verkoues en griep word deur virusse veroorsaak. Nat gras, nat hare en reën het niks daarmee te doen nie. Dit maak nie saak hoe nat jy gereën het nie. Jy kan die volgende dag dalk bietjie olik voel, maar jy het nog nie griep nie – jou lyf is net erg geïrriteerd.

Ongeag die omstandighede, ontwikkel die siektetoestand net as die griepvirus in jou gestel teenwoordig is. Ongelukkig kan die virus jou net mooi oral waar jy gaan, beetpak. As jou liggaam nie gereed is om die virus te beveg nie, gaan jy siek word; met of sonder nat hare. Dit is juis vir dié rede dat ‘n griepinspuiting een van jou beste verdedigingsmeganismes teen die opportunistiese en hardnekkige mikro-gogga is. ‘n Griepinspuiting is ‘n vaksine wat saamgestel word uit verskillende ongeaktiveerde (dooie) tipes griepvirusse. Dit gee jou liggaam kans om teenliggaampies op te bou en sodoende paraat te wees wanneer jy in aanraking met die aktiewe, lewendige virus kom.

Dit is ook ‘n mite dat jy griep van ‘n griepinspuiting kan kry. Die vaksine word saamgestel uit die top drie seisoenale virusse, maar die virusse is ongeaktiveer (dood) en kan dus nie jou immuunstelsel oorweldig om siekte te veroorsaak nie. Dit beteken nie dat jy nie griep van ‘n ander virus kan ontwikkel nie. Afhangende van jou gesondheidstoestand kan jy moontlik vir ‘n dag of twee na die inspuiting olik voel. Die simptome wat verwag kan word, is laegraadse koors, pyn en teerheid by die plek waar die inspuiting toegedien is. Die rede hiervoor is dat jou liggaam op die indringervirus begin reageer en begin om die teenliggaampies te vervaardig en uit te stuur om dit te beveg. Indien jy wel erger simptome as dié ervaar, moet jy dadelik jou dokter kontak. Uiters rare gevalle van negatiewe reaksies op die vaksine – gewoonlik as allergiese reaksies – is al aangemeld. Probeer om die griepinspuiting te kry wanneer jy gesond is, en ook as jy seker is dat jy nie allergies vir hoendereiers is nie, want hoendereiers word gebruik om die vaksines te vervaardig.

Ten tyde van die skryf van hierdie artikel (en moontlik nog steeds terwyl jy dit lees) heers ‘n erge griepseisoen in die Verenigde State, wat tot ‘n gesondheidsnoodtoestand in die staat New York verklaar is. En soos met vorige uitbrake gesien, versprei griep wyd. Dit is dus beslis ‘n goeie idee om hierdie jaar vroeg voorsorg te tref.

Die probleem met die griepseisoen is tweeledig. In die eerste plek, is dit die ellende wat met die griep gepaardgaan en die drama daarna om weer jou werk in te haal en heel moontlik nog dié in die huis, wat aangesteek het, ook te dokter. Die tweede probleem met die griepseisoen met nog meer verreikende gevolge, wat tot ‘n groter gesondheidskrisis in die toekoms kan lei, is die onverklaarbare gewoonte van meeste algemene praktisyns om antibiotika vir verkoue en griep voor te skryf.

pille_02

Antibiotika is ‘n medisyne wat in die negentiende eeu ontwikkel is danksy die navorsingswerk van verskeie pioniere op die mediese gebied.

Dit was egter eers in 1928 dat Alexander Fleming die antibiotiese werking van die swam van die genus Penicillium teen bakterieë geïdentifiseer het. Die eerste sintetiese antibiotika (en die eerste kommersieel beskikbare antibiotika) is in 1932 beskikbaar gestel. Eers heelwat later is penisillien met ‘n natuurlike basis gebruik in die Amerikaanse weermag, voordat dit daarna op die kommersiële mark beskikbaar gestel is.

Antibiotika is nie die korrekte behandeling vir verkoue en griep nie. Antibiotika is presies wat dit sê: ‘n teenmiddel vir biotika. Biotika is bakterieë en mikro-bakteriële organismes. Antibiotika het geen invloed op ‘n virusinfeksie nie en daarom is dit nie die korrekte behandeling vir griep en verkoue nie. Keelseer is gewoonlik ook ‘n virusinfeksie, behalwe vir keelontsteking, die sogenaamde strep throat, wat bakterieel van aard is. Terloops, keelontsteking kan nie met die blote oog gediagnoseer word nie en kan net bevestig word deur middel van laboratoriumtoetse. Antibiotika word wel in sommige gevalle korrek voorgeskryf in griepgevalle waar daar reeds ‘n sekondêre infeksie teenwoordig is, of vir hoë-risiko pasiënte (ouer pasiënte, diabete en diegene met hartprobleme).

Antibiotiese weerstand was nie onbekend voordat antibiotika as medisyne begin gebruik is nie en was reeds teenwoordig in lae vlakke bakterieë. Die oorgebruik van antibiotiese medikasie is egter tans besig om die hoeveelheid antibioties-weerstandige bakterieë hand oor hand te laat toeneem. Enige lewende organisme ontwikkel om oorlewing te verseker en dieselfde werking is teenwoordig in bakteriese kolonies. Sommige bakterieë ontwikkel weerstand teen teenmiddels en medikasie en dit is juis dié bakterieë wat oorleef en verder versprei. Wanneer ‘n bakterieë verdeel en versprei met ‘n reeds ingeprogrammeerde weerstand teen antibiotika, is die antibiotiese medikasie nie meer doeltreffend teen die bakterieë nie. Dit het tot gevolg dat daar toenemend gevalle is waar infeksies moeiliker is om te behandel, oor ‘n langer termyn aggressiewe behandeling nodig het, en ook tot langer hospitalisasie kan lei.

Die oorgebruik en misbruik van antibiotika kan afstuur op ‘n potensiële gesondheidskrisis wanneer ‘n sogenaamde superbug ontwikkel waarteen daar nie doeltreffende medikasie is nie. Antibiotiese weerstand kan natuurlik ook ontwikkel met korrekte gebruik, maar die versnellende pas van weerstandopbouing word ook toegeskryf aan verskeie maatskaplike faktore. Die verkeerde en oorvoorskrywing van antibiotika in gevalle waar dit nie die optimale behandeling is nie, is tans die grootste probleem. Dokters is geneig om antibiotika voor te skryf omdat pasiënte daarop aandring en eenvoudig nie wil glo dat hulle “ordentlik” behandel word indien ‘n dokter nie antibiotika voorskryf nie.

Dit gebeur net so gereeld dat dokters as gevolg van onvolledige of gebrekkige inligting ‘n infeksie moet diagnoseer en dan “net vir ingeval” ‘n wye spektrum antibiotika voorskryf wanneer ‘n spesifieke antibiotika beter sou wees. pille_01

Sommige wetenskaplikes glo ook dat die gebruik in die landbou om antibiotika by veevoer te voeg bydra tot die toename in antibiotiese weerstandige bakterieë. Die huishoudelike gebruik van antibakteriese skoonmaakmiddels is nog nie gekoppel aan die verspreiding van antibiotiese weerstandige bakterieë nie, aangesien geen bewyse hiertoe nog gevind is nie. Sommige kundiges is nie oortuig dat hierdie middels ‘n noemenswaardige invloed op die bekamping van die verspreiding van infektiewe organismes het nie.

Antibiotika is ‘n lewensnoodsaaklike mediese hulpmiddel en vervul ‘n uiters belangrike rol in die moderne gesondheidsomgewing. Ongelukkig is die effektiwiteit daarvan in gedrang en sal ‘n baie meer verantwoordelike benadering tot die behandeling van siektetoestande vinnig in werking gestel moet word.

Indien jy dus dié winter nie die griepgogga kan vryspring nie, moenie sommer gelate net antibiotika aanvaar nie. Maak eers baie seker dat daar ‘n besliste, verdedigbare mediese rede daarvoor is. Onthou dat griep jou immuniteit onderdruk en jou baie vatbaar vir sekondêre siektes maak. Die beste raad is om by die huis te bly, genoeg vloeistof te drink, stil in die bed te rus en nie te gaan werk terwyl jy siek is nie. Met ander woorde, hou jou kieme vir jouself!

 

 

 

Subscribe

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

Comments are closed.