Warning: Creating default object from empty value in /home/passi/public_html/wp-content/themes/canvas/functions/admin-hooks.php on line 160

Wat die Frack

‘n Paar jaar gelede sou die gemiddelde Suid-Afrikaner gedink het die term “fracking” is ‘n manier om die internetsensors, wat kru taal blok, te omseil. Vandag is “fracking”, of te wel hidrobreking, ‘n warm patat wat menige opinies, argumente en teenargumente ontlok. 

In September verlede jaar, het die Suid-Afrikaanse kabinet die moratorium op hidrobreking-eksplorasie in die Karoo opgehef, en so die weg gebaan vir eksplorasie-aansoeke om oorweeg te word. Daar moet egter nog baie water in die see loop voordat moontlike eksplorasie kan begin. Terwyl die moontlikheid verreikende gevolge vir Suid-Afrika kan inhou, verstaan die meeste van ons nog bitter min van hidrobreking.

Geskiedenis

Breking as ‘n metode om vlak, harde-rots olieboorgate deur middel van vloeibare en soliede nitrogliserien te stimuleer, is reeds in die 1860’s deur Amerikaanse olieproduseerders, en later ook vir water- en gasboorgate, gebruik. Die gedagte om eerder ‘n nie-plofbare suur te gebruik, het in die 1930’s ontstaan. ‘n Byvoordeel van die sure was dat die krake nie weer heeltemal toegegaan het nie danksy die etsing van die sure op die rotse. Die ontdekking is later verbeter met die byvoeging van proppante om die krake oop te hou.

Die eksplorasie en moontlike ontginning van skaliegas in die Karoo is so genoem as gevolg van die tipe rotsformasies waarin die gas vasgevang is. Skalierots is ‘n fyngekorrelde sedimentêre rots saamgestel uit ‘n verskeidenheid  minerale en modder. As gevolg van die hoë poreusheid en lae deurdringbaarheid van skalierots, was baie navorsing en tegnologiese ontwikkeling nodig voordat hidrobreking vir skaliegas gebruik kon word, en is die ekonomies-vatbare gladde-watermetode eers in 1997 in die praktyk gebruik.

Die proses behels dat ‘n boorgat tot op die verlangde diepte geboor word – in die Karoo-proses eers vertikaal en dan horisontaal. Dan word hidroliese (gladde-water) vloeistowwe onder hoë druk in die boorgat gepomp om die rots oop te kraak. Die hidroliese vloeistof bly natuurlik voortbeur totdat die hoë-druk vloei afgesluit word. Dit verleng die krake wat gevorm word. Om te voorkom dat die krake weer toeval nadat die drukking van die vloeistof afgesny word, word ‘n proppant ( soos sand, keramiek of iets soortgelyk) saam met die vloeistof in die boorgat en brekingskrake ingepomp. Die spasies tussen die vaste stof-proppante maak dit dus moontlik vir die natuurlike gas om uit te syfer en in tenks op die oppervlak opgevang te word.

Die hidroliese vloeistowwe wat gebruik word, word bepaal deur die tipe strata waardeur die breking moet plaasvind. Dit kan wissel van ‘n eenvoudige mengsel van water en sout, tot komplekse kombinasies, wat verskillende stowwe soos sure en metanol insluit. Die doel van die vloeistof is tweeledig aangesien dit enersyds die breking moet bewerkstellig en andersyds die proppant moet afvoer om die nuutgevormde krake oop te hou. Dit is juis om hierdie rede dat die hidroliese vloeistowwe mengsels geword het ten einde ‘n gladder afvoer van die proppant te verseker en dus die krake groter en meer stabiel te maak. Sodoende word produksie van die myn verbeter. Om die toestand van die krake te monitor, word radioaktiewe spoorders ook in die vloeistof ingesluit. Die radioaktiewe stowwe word gekies om die minimum aanvanklike en oorblywende bestralingsbesoedeling te veroorsaak. Streng maatreëls bepaal die tipe en hoeveelheid radioaktiewe partikels per eenheid vloeistof wat gebruik mag word.

frack_01

Waaroor gaan die fracking bohaai dan?

Die Europese Unie ‘n omvattende 300-bladsy verslag, waarin hidrobreking om skaliegas te ontgin as hoë risiko vir menslike gesondheid en die omgewing gekritiseer word, bekendgestel op dieselfde dag as wat die moratorium op hidroliese breking-eksplorasie deur die Suid-Afrikaanse kabinet opgehef is. Die uitsprake in die EU se verslag spruit uit twee hoofargumente teen hidrobreking, naamlik die potensiaal van die proses om waterbronne te besoedel of uit te put, en lugbesoedeling.

In ‘n water-arm land soos Suid-Afrika is die beskerming van waterbronne uiters noodsaaklik. Die besoedelingsgevare vir water sluit in dat die chemikalieë, wat gebruik word om die gladde-water-mengsel saam te stel, grondwater kan besoedel. Die gevaar bestaan ook dat die skaliegas deur die natuurlike varswater-waterbanke (aquifers) kan syfer en die water sodoende besoedel. Die gesondheidsgevare van besoedelde water vir mens en dier kan dodelik wees. In die Verenigde State, waar hidrobreking reeds baie jare gebruik word, is verskeie gevalle van grondwaterbesoedeling reeds aangemeld. Verder, om een mynkraking te breek volgens die voorgenome Karoo-plan, kan tot soveel as 20 miljoen liter water gebruik word. Royal Dutch Shell, wat aansoek om ‘n eksplorasie permit gedoen het,  het onderneem om die water in te bring en nie met die Karoo-boere om dié beperkte bron te kompeteer nie.

Onlangse navorsing, ook uit die Verenigde State, het van die kwelpunte rondom waterbesoedeling  effens bygelê. Indien gladde-water op die oppervlakte uitlek en in varswaterbronne inloop, kan dit beslis gevaarlike besoedeling tot gevolg hê. Maar, anders as wat deur meeste teenstanders van die kontroversiële ontginningsprogram geglo word, is die kanse dat skaliegas en hidroliese water in natuurlike ondergrondse waterbanke kan insyfer, uiters skraal. Die gladde-water sal deur duisende meter harde rots moet syfer om die waterbanke te bereik, aangesien die horisontale skagte en krake baie dieper ondergronds as varswaterbanke  lê – veral in die Karoo. In die geval van die gas is dit juis omdat die gas nie deur die harde rots uitsyfer nie dat hidrobreking in die eerste plek gebruik word. Volgens die geoloog, Gary Lash aan die Universiteit van New York, verhoed die verskillende lae van sediment en ander rotsformasies (wat elk ‘n unieke stel meganiese eienskappe het) dat krake nader as ‘n myl (omtrent 1,6 km) aan die oppervlak kan versprei. Verder is gladde-water, wat verdik is met byvoegsels, te dik om deur so ‘n kanaal te styg.

Lugbesoedeling is ook as ‘n kwelpunt uitgelig as gevolg van die hoeveelhede metaangas wat deur die proses in die atmosfeer vrygestel word. Metaangas is die tweede mees algemene aardverwarmingsgas, maar die impak van metaangas op aardverwarming is tot 20 keer meer as dié van koolstofdioksied oor ‘n 100 jaar periode. Metaangas is nie net die produk van natuurlike (en skalie-) gas mynaktiwiteite nie, maar kom van ‘n wye verskeidenheid natuurlike en mensgemaakte bronne – vanaf industriële byprodukte tot veeboerdery. Navorsers by die Massachusetts Institute of Technology (MIT) het ook bevind dat hidrobreking slegs ‘n fraksie meer metaan in die lug vrystel as konvensionele olieboring – bereken op 3,6 % meer oor al die skaliegasvelde teenoor al die olievelde in die Verenigde State.

Voertuigbrandstof, wat met natuurlike gas vervaardig word, brand skoner. Dit beteken minder koolstofmonoksied of -dioksied, en ook minder stikstofdioksied word in die atmosfeer vrygestel. Alhoewel ‘n totale oorskakeling op die korttermyn relatief onmoontlik is, kan die oorskakeling van openbare vervoer en elektrisiteitsopwekking na natuurlike gasbronne reeds ‘n dramatiese vermindering ten opsigte van die koolstofvoetspoor van enige land, wat die tegnologie aanneem, teweegbring.

Hidrobreking, en die moontlike gevolge daarvan, is ‘n wye en komplekse onderwerp waaroor boeke reeds geskryf is en waaroor heel waarskynlik nog baie meer boeke geskryf gaan word. Hierdie artikel raak maar slegs die basiese punte van die kwessie aan. Die moontlikheid bestaan wel dat hidrobreking, indien dit korrek bestuur en gemonitor word, nie ‘n wolf in skaapklere is nie. Soos die Sekretaris vir Binnelandse Sake in President Barack Obama se administrasie opgemerk het: “Dit is my opinie dat die beskerming van die omgewing en die ontwikkeling van olie en gas nie wedersyds uitsluitend is nie – en dat diegene wat sê dat dit is, besig is om ‘n valse keuse voor te hou.”

 

Treasure Karoo Action Group (www.treasurekaroo.co.za)

United States Environmental Protection Agency (www.epa.gov)

The Energy Collective (www.theenergycollective.com)

Popular Mechanics (www.popularmechanics.com)

Subscribe

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

No comments yet.

Leave a Reply