Warning: Creating default object from empty value in /home/passi/public_html/wp-content/themes/canvas/functions/admin-hooks.php on line 160

Van geboorte af, ter dood veroordeel

Hy word gebore, veronderstel om die koning van die diereryk te wees as hy eendag groot is. In plaas daarvan neem hulle hom van sy ma weg.

ir jare word hy grootgemaak in sy hok, soos ‘n wilde troeteldier, ingeperk en per bottel gevoer om mak te wees en mense gewoond te raak. Wanneer sy are begin bult en sy maanhare wys, is hy volwasse genoeg. Dan sit hy een rustige middag onder sy gunsteling boom op die jagplaas. Hy sien mense buite die hok, maar is hulle gewoond, al het die vreemdeling tussen hulle ‘n geweer in sy hand. Die koninklike trofee kyk niksvermoedend na die toeris, wat vir duisende rande sy lewe kom neem het. Die skoot klap en die mak leeu word in ‘n oogwink ‘n wildstrofee.

dood_01Dit is die verhaal van geblikte leeus. Die gemiddelde persoon in Suid-Afrika is naïef oor hierdie werklikheid, is blind vir waar dit oral gebeur en dikwels verstom oor hoe gereeld dit plaasvind.

Geblikte leeus is leeus wat mak grootgemaak word om later genadeloos deur ‘n jagter as ‘n trofee geskiet te word. Dikwels word geblikte leeus, wat in die hok is, van buite die hok geskiet. Hulle is selfs meer kwesbaar wanneer ‘n jagter die hok binnekom omdat die leeu van jongs af aan mense gewoond is.

Trofeejagters en buitelandse toeriste betaal elke jaar honderde duisende rande om so ‘n leeu te skiet. Dit word dikwels voorgehou as ‘n wilde dier, wat in die Bosveld uitoorlê is, maar is in werklikheid ‘n mak prysskoot gewees.

Volgens die webtuiste www.whitelions.org word die dier in ‘n groter kamp geplaas wanneer dit tyd raak vir die leeu om geskiet te word. Die jagters sal binne die kamp rondry en die mak dier soek. Vleis word ook gereeld uitgesit om die leeu te lok en dan word hy geskiet terwyl hy eet. Voorkeur word natuurlik gegee aan die mannetjies met maanhare, maar die wyfies ly ook hieronder.

Sodra die welpie van sy moeder geneem word, sal die telers haar onmiddellik weer laat dek. Haar lewensdoel word letterlik om aanhoudend leeus vir trofeejag te baar. Indien haar werpsel ‘n wyfie is, sal so ‘n welpie se lot dieselfde wees as dié van haar ma. Wanneer die wyfies nie meer nodig is nie, word hulle as ‘n “winskopie” geskiet, of eenvoudig net by die jag van ‘n mannetjie as ‘n bonus ingesluit.

‘n Nog naarder waarheid is dat daar dikwels oorkruis met sulke leeus geteel word. “Mannetjies sal sommer by hul werpsels geplaas word, en boeties by sussies. Die diere wat dan as gevolg hiervan met gebreke gebore word, word ook later as nutteloos uitgeroei,” sê Sharine Barnard van Bagamoya Wildlife Estate buite Bloemfontein.

“Dit is verkeerd en absoluut wreed. Ek is heeltemal gekant teen die hele konsep van geblikte leeus.”  Hulle teel gesond met leeus by Bagamoya en rehabiliteer gereeld leeus wat gered is voordat hulle die slagoffers van die geblikte leeu-bedryf geword het. “My leeus is vir my soos kinders. Hulle bly saam met my in die huis tot hulle te groot is. Dan sit ons hulle terug in kampe, wat groot genoeg is vir hulle om gemaklik in te leef.”
Volgens Sharine sal mense nie kan glo hoeveel leeuplase daar om Bloemfontein is wat geblikte leeus aanhou nie. Die onderliggende waarheid is dat die leeu- en wildekatplase in die Vrystaat, wat nie geblikte leeus aanhou nie, nie eers op een hand getel kan word nie.

Die Vrystaatste departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsaangeleenthede (Detea) is blykbaar bewus van twee plase buite Bloemfontein waar geblikte leeus volgens baie streng regulasies gejag word. Detea sê egter hulle is nie bewus van enige “onwettige leeujag” in die Vrystaat nie, en dat nie meer as agt leeus in 2012 “gejag” is nie.

Berigte op www.cannedlion.org sê daar is tans meer as 5 000 leeus in Afrika, wat in haglike omstandighede as geblikte leeus vir trofeejagters aangehou word. Dieselfde statistieke vertel ons dat welpies, wat in sulke omstandighede gebore word, aan leeuplase verhuur word waar hulle deur toeriste vertroetel kan word. Hierdie toeriste word vertel dat die leeus later as volwassenes in die natuur vrygelaat gaan word, maar eintlik word selfs hierdie spogdiere na die telers teruggestuur om op jagplase geskiet te word.

dood_02Natuurlik word die vraag gevra of blikjag dan wettig in Suid-Afrika is?  In teenstelling met verslae van politici en berigte in die media is blikjag nie in Suid-Afrika verban nie. Die realiteit is dat nuwe, sogenaamde strenger regulasies die jag van geblikte leeus wettig.

Detea se siening is dat dit ekologies beter is om geblikte leeus te jag, as wilde leeus omdat leeujag in die natuur ‘n nadelige effek op die ekologie sal hê. Hiervolgens kan ‘n leeu slegs geblik wees vir jag indien die eienaar ‘n bestuurs- en besigheidsplan ingedien het, wat deur die permitkeurkomitee goedgekeur is, en die leeukampe geïnspekteer is voor die permit uitgereik is. Die minimum grootte van ‘n leeukamp is een hektaar en slegs twee leeus mag daar aangehou word.

Dit is ook tragies dat witleeus al amper weens hierdie praktyk uitgesterf het, omdat hulle ‘n duurder en selfs meer gesogte trofee vir ‘n leeujagter is. Maatskappye wat trofeejag bedryf het nou ook alternatiewe maniere gevind om die moord van leeus meer winsgewend te maak. Die bene van die leeus word deesdae aan die Oosterse medisynemark verkoop. Hierdie is deel van dieselfde bedryf wat soveel van ons planeet se bedreigde spesies uitwis. Die spesies wat die grootste gevaar van uitwissing loop, is tiere en renosters.

Renosterstroping het met meer as 3000% gestyg vanaf 2008. Wie weet wat nog van leeus gaan word noudat die koning van diereland presies dieselfde paadjie loop? Ironies genoeg, laat Suid-Afrika selfs toe dat tiere, wat inheems aan Asië is, ook in kampe geskiet word sodat hul bene na Asië toe gestuur kan word.

Drukgroepe vir diereregte vra toeriste om meer oplettend te wees wanneer hulle leeuplase besoek. Vra eienaars en gidse uit oor die leeujag- en geblikte leeu-bedryf. Doen navraag oor wat met leeuwelpies gebeur as hulle die plaas ontgroei het en waar die diere in die eerste plek vandaan kom.

Vir meer inligting oor die bedryf van geblikte leeus en die skokkende bewyse en gevolge van geblikte leeujag, besoek gerus die webtuistes www.cannedlion.org en www.whitelions.org

Subscribe

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

Comments are closed.