Warning: Creating default object from empty value in /home/passi/public_html/wp-content/themes/canvas/functions/admin-hooks.php on line 160

Noodweer

Suid-Afrikaners word daagliks gekonfronteer met nuusberigte en persoonlike ervaring van geweldsmisdade wat insluit moord, verkragting, gewapende roof, huisroof en plaasroof.  Bestudeer mens die afgelope agt jaar se misdaadstatistiek, is dit duidelik dat Suid-Afrika ‘n kultuur van geweld ontwikkel het en dit handhaaf.

Tussen hierdie nuusberigte en persoonlike ervaring van moord, roof en verkragting is daar soms tragiese nagevolge vir die persoon wat die lewe, liggaam en eiendom van homself en dié van sy familie wou beskerm. Huisrowe gaan dikwels gepaard met moord, verkragting en die ernstige liggaamlike besering van huiseienaars en hul families.  Wanneer ‘n persoon homself verset of verdedig teen so ‘n onwettige aanval, tree hy op in noodweer of selfverdediging.

Daarom is dit belangrik om te weet watter vereistes en toetse die howe daarstel wanneer ‘n persoon homself beroep op ‘n verweer van selfverdediging, en wanneer die perke van noodweer oorskry word.  ‘n Persoon tree in noodweer op wanneer hy homself teen ‘n onwettige aanval op sy lewe, liggaam of besittings, of dié van sy gesin, verdedig. Indien hy middele aanwend wat nie nodig is om die aanval af te weer nie, oorskry hy die perke van noodweer en stel hy homself bloot aan vervolging deur die staat.

‘n Aanval, waarteen in selfverdediging opgetree word, moet voldoen aan die volgende vereistes:  dit moet onwettig wees; die aanval moet gerig wees teen ‘n persoon se lewe, liggaamlike integriteit (insluitend seksuele integriteit, of te wel voorkoming van verkragting) of eiendom; en die aanval moet reeds begin het of onmiddellik dreigend wees, maar nie reeds verby nie.  Indien ‘n rower  dus tydens die aanval afgeskrik word en weghardloop, tree ‘n persoon buite die perke van noodweer op as hy die rower sou skiet of dood terwyl die rower nie meer ‘n aanvalshandeling verrig of ‘n dreigende gevaar skep nie.

Uitreksel uit Passi 17, teks deur Martin Scheepers van Honey Prokureurs.

honey

Die sielkundige reaksie van enige mens wat in nood verkeer, is om te veg of te vlug. Die veg-of-vlug-reaksie word moontlik gemaak deur adrenalien, wat in die brein vrygestel word wanneer iemand in so ‘n angstoestand verkeer.  In daardie toestand sal iemand, wat gewoonlik nie eers baie atleties of braaf is nie, byvoorbeeld bo-oor ‘n heining kan spring, of op ‘n dief afstorm en hom aanval.

Die keuse om te veg of te vlug moet egter dikwels binne sekondes in ‘n krisissituasie gemaak word en oordeelsfoute, wat tot tragedies kan lei, is dus ‘n sterk moontlikheid. Daar was al baie gevalle van verantwoordelike, rasionele, stabiele mense, wat in so ‘n situasie selfs hul eie kinders per ongeluk doodgeskiet het.

Volgens Isobell Meiers-Briggs, wat die Meiers-Briggs-persoonlikheidstoets help ontwikkel het, toon mense onder groot stres dikwels die flipside van die gedrag wat jy gewoonlik van hul persoonlikheidsprofiel sou verwag.

Mense wat gewoonlik baie onemosioneel en gematig optree, sal byvoorbeeld in ‘n stressituasie histeries raak, terwyl ander, wat gewoonlik maklik huil en emosioneel is, dalk totaal kalm sal wees en selfs kan vries.

Uitreksel uit Passi 17, teks deur Madeleen Steenkamp Kliniese Sielkundige.

madeleen

Subscribe

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

Comments are closed.