Warning: Creating default object from empty value in /home/passi/public_html/wp-content/themes/canvas/functions/admin-hooks.php on line 160

Integrasie?

Wanneer mens dink aan die Universiteit van die Vrystaat, maak mense die vreemdste konnotasies en afleidings. Ons is geneig om aan al die negatiewe aspekte te dink aangesien dit baie interessanter as die positiewe is, meestal omdat dit meer nuuskierigheid ontlok. Ek het tyd saam met studente van die Universiteit deurgebring om hul menings te hoor oor wat alles by dié merkwaardige plek gebeur, en ekself het nuuskieriger oor die UV geraak. Nie omdat wat hulle gesê het negatief was nie, maar omdat daar soveel bewondering by die studente is vir die Universiteit, vir die rektor, professor Jonathan Jansen, en ook vir hulle medestudente.

 Na al die oproer by die Universiteit is daar een onderwerp wat altyd op almal se lippe is en ons gedagtes oorheers wanneer ons aan die Universiteit van die Vrystaat dink, naamlik die kwessie rondom integrasie. Wanneer ons dié woord hoor, is dit asof daar ‘n donker Beethoven-melodie in die agtergrond speel, met donderweer wat flits en ‘n lelike, mal man wat histeries lag. Wanneer ek die woord egter aan die studente van die Universiteit van die Vrystaat noem, hoor hulle voëls fluit en skyn die son. Hulle sien nie velkleur nie.  Hulle verkies integrasie, en met ‘n klomp studente wat so ‘n uitkyk op die wêreld het, kan prof. Jansen nie ‘n fout met integrasie maak nie. Meeste van dié studente is deel van die “Born Free”-generasie, die generasie wat na die Apartheidsera gebore is en wat verkies om nie velkleur raak te sien nie.  Hulle voel velkleur bepaal nie wie jy is nie. Maar soos met elke onderwerp, veral wanneer dit by die onderwerp van ras kom, is daar sommiges wat nie heeltemal saamstem nie. Party sê hulle kom agter dat daar wel ‘n paar studente is wat nie gemaklik met die idee van integrasie is nie, soos byvoorbeeld diegene wat eerder inskryf vir Afrikaanse klasse vanweë die persepsie dat die klasse  eerder deur wit studente bygewoon word. Of dié wat inskryf vir die Engelse klasse, nie omdat dit hulle verkose taal van onderrig is nie, maar omdat die wanindruk bestaan dat die klasse meer deur  swart studente bygewoon word. Dié studente is egter deel van die minderheid.

Uitreksel uit Passi 17, teks deur Magda Kock.

Subscribe

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

Comments are closed.