Warning: Creating default object from empty value in /home/passi/public_html/wp-content/themes/canvas/functions/admin-hooks.php on line 160

Tania, Nicolene & Nadia

belle2

Tania McKay

KANSA Relay For Life” is ‘n geleentheid wat almal die kans bied om deel te neem aan die stryd teen kanker.  Dit verteenwoordig die hoop dat hulle, wat die stryd teen kanker verloor het, nooit vergeet sal word nie, dat hulle wat teen kanker stry ondersteun sal word en dat kanker eendag oorwin sal word.

Relay For Life is ‘n deurnag span-byeenkoms wat die bewusmaking van kanker ten doel het en die noodsaaklike fondse genereer om kanker te bestry.  Gedurende Relay onderneem spanne om deurnag rondom ‘n baan te loop, want kanker slaap nooit nie. Elke span word aangemoedig om ‘n bedrag in te samel om KANSA se voorkoming-, onderrig-, vroeë opsporing-, voorspraak- en pasiëntsorgprogramme in die streek waar die Relay plaasvind, te ondersteun.

Relay For Life open met ‘n ererondte deur kankeroorlewendes. Na sononder word kerse, wat rondom die baan gepak word, aangesteek. Almal kom saam om hulde te bring aan diegene wat die stryd teen kanker verloor het, asook om hulle, wat teen kanker stry, te ondersteun en saam die lewe te vier met diegene wat die stryd oorwin het. Deur die loop van die nag is daar baie seremonies, vermaak en spanaktiwiteite.

Raak betrokke deur:

‘n Span vir jou naaste KANSA Relay For Life-geleentheid in te skryf.

Wees ‘n KANSA Relay For Life-borg.

Versprei die boodskap: moedig deelname aan, veral onder kankeroorlewendes.

082 5599443

tmckay@cansa.org.za

 

Nicolene van den Heever

Divisiebestuurder – CHOC Vrystaat en Noord-Kaap

Die CHOC Kinderkankervereniging is ‘n vrywilliger-organisasie en bring gesinne van kinders met kanker nader aan mekaar. Ek wil graag die speelkamer in die Universitas-hospitaal se Pediatriese Kliniek opgradeer en sal enige skenkings daarvoor waardeer.

Ons het die publiek en besighede se ondersteuning nodig om ons programme ‘n werklikheid te kan maak. Op Jeugdag beplan ons om ‘n pretstap saam met die Achilles-klub te hou om so die jeug by ons geldinsamelingsprojek te betrek. Ander geldinsamelingsprojekte sluit in: ‘n babafotokompetisie, ter viering van ons negende verjaardag in Augustus en die jaarlikse CHOC Lenteteeparty (Saterdag, 7 September 2013 in die NG Universitas-kerksaal), waar families met ‘n heerlike bederfoggend en verskeie stalletjies trakteer sal word. Ons moet hande vat om meer as hoop aan die lewe te hou. Skenk gerus R30 deur slegs die woord ‘CHOC’ na 42220 te SMS.

Een in seshonderd kinders jonger as 16 jaar oud in Suid-Afrika kan moontlik kanker hê, maar minder as die helfte van dié kinders word wel gediagnoseer. Vroeë diagnose is baie belangrik. Besoek ons webtuiste vir meer inligting oor die vroeë waarskuwingstekens by www.CHOC.org.za

My kontakbesonderhede:

Sel: 074-199-7250 of bel of stuur ‘n faks na 051-522-6671

E-pos: nicolenevdh@choc.org.za

 

Nadia Goodes

Reach For A Dream is ‘n nie-winsgewende organisasie, wat verantwoordelik is vir die insameling van fondse om sodoende ‘n verskil in kinders se lewens te kan maak.

Reach for a Dream se hoofdoel is om die drome van kinders tussen die ouderdomme van 3 tot 18 jaar met lewensbedreigende siektes te vervul, ten einde hulle die wil en moed te gee om teen hulle siektes te veg en hulle krag te gee om die behandeling beter te hanteer.

Kindwees speel ‘n baie belangrike rol in enige iemand se lewe en daarom glo ons dat kinders die geleentheid gegun moet word om te kan droom.

Ons glo dat om ‘n ander omgewing vir die kinders te skep, hulle fokus vanaf hul siekte sal verskuif. Dit moedig hulle aan om weer te lag en die goedheid van die lewe te ervaar. Dit gee ook vir hulle krag om bo hulle siektes uit te styg.

Mense en kinders is my passie en daarom is dit vir my belangrik om soveel as moontlik mense met verskillende belangstellings bewus te maak en aan hulle ‘n geleentheid te bied om betrokke te kan raak waar hulle ‘n bydrae kan maak tot die vervulling van kinders se drome.

Dit is en sal altyd my passie wees om hierdie kinders te dien.

Jy kan ‘n verskil maak deur net ‘n R10-plakker te koop en ons nasionale “Reach for your Slippers”-veldtog te ondersteun deur jou pantoffels op Vrydag, 2 Augustus 2013 te dra.  Help ons om 20 000 plakkers in Bloemfontein te verkoop.

Skakel my gerus om jou plakker/s te koop of vir navrae oor ons ander fondsinsamelingsprojekte op die kalender:

Nadia Goodes – 072 199 0558 

of stuur ‘n e-pos aan nadia@reachforadream.org.za